Welkom by ons Skool

Uit Die Kantoor

Geagte Leser

Hoërskool Robertson kom in 1928 met die amalgamering van die Hoër Meisie- en Hoër Seunskool tot stand. Die gebou waarin die opleidingskool vroeër gehuisves is, word betrek. Uitbreidings en verbeterings is deur die jare aangebring sonder om afbreek aan die oorspronklike statigheid te doen.

Die oudskoliere van ons skool het reeds diep spore in die geskiedenis getrap. Onder andere is die tweede aangewese staatspresident van die RSA (dr. TE Dönges), ‘n administrateur van Transvaal (dr. WM Nichol), ‘n speaker van die Volksraad (adv. JH Conradie), asook akademici en letterkundiges (dr. JC Kannemeyer) almal oudleerlinge van ons skool.

Dit is ook ons skool se voorreg om gereeld provinsiale spelers in verskeie sportkodes op te lewer, terwyl leerders en oudleerders ook gereeld in nasionale spanne plekke behaal.

Op akademiese gebied lewer RHS tot 1994 vier leerlinge wat die top twintig van die Senior Sertifikaat in Kaapland haal waarvan een ‘n vierde plek beklee. In 1998 behaal Deter de Wet die eerste plek in Wes-Kaap en Dawid van Niekerk die agtiende plek in 2001 tydens dieselfde eksamen. Jaarliks behaal ‘n beduidende aantal matrieks ook ‘n A-gemiddeld in hul eindeksamen.

RHS vergelyk jaarliks uitstekend met top skole in die Wes-Kaap t.o.v. ons matriekuitslae. In 2009 behaal die matrieks 15 A-gemiddeldes uit 97 kandidate.

Hoewel ons trots is op die skool se tradisies, steeds daaraan bou en dit uitleef, streef ons ook na vernuwing op onderwysgebied sodat stagnasie nie ‘n bedreiging sal word nie en ons altyd sal bybly met die nuutste tegnologie, kennis en ontwikkeling. Juis daarom sal hierdie prospektus nooit volledig en lank op datum bly nie.

In Hoërskool Robertson bou ons, met ons geloofsoog op God, aan gebalanseerde jongmense sodat hulle hul plek as ware Suid-Afrikaanse burgers kan volstaan. Hierin eggo ons leuse: VELLE EST POSSE – WAAR DAAR ‘N WIL IS, IS DAAR ‘N WEG.

Vriendelike groete.

Die uwe

H. Gonzales
SKOOLHOOF

 

Kalender

S M T W T F S
29 30 1 2 3 4 5
6 7 8 9 10 11 12
13 14 15 16 17 18 19
20 21 22 23 24 25 26
27 28 29 30 31 1 2

Foto Studio